Feeds:
Bydraes
Comments

‘n Man het sy lewe verloor.

Tussen verwronge staal is sy lewensvlam gedoof. Hy was ‘n polisieman aan diens. Iemand wat ons land kwalik kan bekostig om te verloor. Iemand wie sy familie kwalik kan beskostig om te verloor.

Terwyl ons ongeduldig in die verkeer sit en swets en met ons vingers op die stuurwiel trommel kom die verkeersverslag oor die radio. Ernstige ongeluk op Zambesi . . .  polisieman dood is . . . ondersoek na oorsaak van die ongeluk reeds begin.

Al waaraan ek kan dink is of die ondersoek so gou geloods sou gewees het as dit die lid van die publiek was wat omgekom het en wat gebeur as die polisieman die skuldige blyk te wees.  En terwyl ons verby die toneel kruip waar die laaste stukke van die wrakke opgelaai word kan ek nie help om te dink dat die beste manier om die nooddienste vinnig op die toneel te kry as jy in ‘n ongeluk was, is om met ‘n polisievoertuig of ‘n minister te bots.

‘n Man het sy lewe verloor, maar die eerste gedagtes wat by jou opkom is wantroue en suspisie. Het leef in hierdie land, in hierdie wêreld ons uitsig so verwronge gelaat dat gewone menslike empatie slegs ‘n nagedagte is?

Dit is om van siek te word. Tot kotsens toe siek.

‘n Man het sy lewe verloor. Gee iemand nog om?

PJ

Dad

Ek kan skaars glo dit is alweer ‘n jaar sedert my laaste briefie. Dinge gaan darem wragtag vinnig, hopeloos te vinnig. Kan jy glo ek is al 36? Om te dink ek was maar 19 toe dit gebeur het. Ek voel steeds of ek net gou kan ingaan huis toe om jou te roep om te kom kyk wat ek nou weer aanvang. Ek is juis besig met ‘n nuwe projekkie, en ek is nogal trots daarop. Oom Hennie was nou die dag hier en hy reken dit is ‘n netjiese stukkie werk, en jy weet hoe pedanties daardie kunstenaar tipes kan wees!

Ek weet nie hoe goed die “grapevine” werk daar by julle nie, maar jy het seker al gehoor van die nuwe moeilikheid wat my en Krista te bowe geval het? Ek vertel maar weer net vir ingeval. Ons probeer nou al so net annerkant die 2 jaar om ‘n naamgenoot vir oupa te bewimpel, maar sonder sukses. Soveel so was ons gesukkel dat ons onself toe maar noodgedwonge na die mediese wetenskap moes wend vir antwoorde. Om ‘n lang storie kort te maak, na vele spesialiste en toetse en bevoelinge en dinge kom hulle toe agter ek het een of ander groeisel in my kop wat blykbaar verantwoordelik is vir meeste van my moeilikheid. Nodeloos om te sê is ek heeltemal buite my wentelbaan oor die hele besigheid, ek meen ek is maar net 10 jaar jonger as wat jy was . . . Ewenwel ons het ‘n afspraak by ‘n neurochirurg oor 2 dae (nogal Vrydag die 13de!) Dan sal ons seker maar sien.

Met die res gaan dit goed. My ooms en tantes (jou boeties en sussies) raak nou oud. Ek het hulle almal gesien op die 10 Oktober, maar ons kon ongelukkig nie lank genoeg bly om lekker te kuier en op te vang nie. Oom Kobus het weer met smaak vertel hoe julle gevang was toe julle as kinders die Pupkewitz winkel in Windhoek onder die klippe gesteek het. Tannie Leatitia het nou afgetree en bestuur ‘n gesondheidspa op die plaas. Tannie Mariaan hulle trek Januarie Rundu toe. Jis jy sal nie glo hoe baie lyk Melanie na haar tante Mariaan nie! Oom Hennie stoom voort. Die hart en die rug en die diabetes keil hom op, maar hy is ‘n regte kanniedood.

Ek is ook nou uiteindelik besig om Bees (dit is wat ons die ou F250 bakkie gedoop het) se oordrag af te handel sodat ek hom maar kan verkoop. My hart is regtig seer daaroor, maar die ou ding staan nou regtig net en verniel.

Ek moet nou gaan, daar is nog baie om te doen voor Vrydag. Direk na die afspraak gaan ons bietjie warmwaterbronne toe vir die naweek. Onthou ek nou, julle was mos ook bronne toe die naweek voor jou hartaanval?

Krista stuur groete. Ons mis jou. Mooi loop ou grote.

PJ

Die dag van rekenskap

Miskien het die tyd aangebreek vir ons as Afrikaanssprekendes om rekenskap te gee van onself, nie as wittes nie. Nie as Afrikaners nie, maar as Afrikaans sprekende Suid Afrikaners. Die manier hoe ek dit sien is jy of deel van die probleem of deel van die oplossing. Al hou ek nie van hoe die sisteme lyk in ons nuwe reënboog village nie, is dit my plig as landsburger om my volle gewig en ondersteuning daaragter te gooi.

Wie weet, dalk word ek en jy as Afrikaners en as bleekgesigte makliker aanvaar as deel van hierdie land as ons gesien word as aktiewe deelnemers en promoveerders van die prosesse, eerder as kantlyn kommntators wat dit kortwiek.

Dinge gaan waarskynlik eers nog slegter word voor dit beter word, so trek op jou kouse, druk jou hoed stewig op jou kop vas en klou boetie/sussie klou! Die reenboog village is nie vir sissies nie.

Vat hom weg Bok! (hierdie is my gunsteling song op die nuwe album)

 

PJ

 

Plasie en die LiefieLyfieWyfieding het ‘n kort roadtrip onderneem na die plaas van oorle Lang Willem Prinsloo en die se seun klein Lang Willem Prinsloo, oftewel die Willem Prinsloo landbou museum soos dit beter bekendstaan.

P1060002

Afrikaner Os

P1060005

Koeikraal

P1060006

Bulkraal

P1060008

Wilde weste

P1060009

My tipe wa

P1060011

Vaaljapie

P1060013

My oom se motor (trekker) is 'n ou masjien . . .

P1060015

Cat rules!

P1060019

Uiters skaars windverwaaide rondekop huisdier. Hierdie een is makgemaak en LiefieLyfieWyfieding gedoop.

P1060031

Pou bende siesta

P1060044

Pou bende aan die beweeg

P1060032

Moo!

P1060049

Turksvyblom en heuningby

 

P1060050

Haak rooies, vastrap vaaltyn!

P1060035

Finale rusplek?

Dankie Lyfie, dit was fun. Volgende keer vat ons ‘n piekniekmandjie!

PJ

Nabetragting

Ou Plasie sal altyd die eerste een wees om te kla dat naweke te kort is, maar naweke is eintlik net reg. Daar bly altyd genoeg goed oor waarby jy nie uitgekom het nie sodat jy moet uitsien na volgende naweek :mrgreen: Een ding wat wel heeltemal te kort is, is Somer. Jimmel ek lief die Somer!

Pretoria se strate was byna verlate vanmore, heel verrassend vir einde-van-die-maand naweek. Selfs Builders Warehouse waar ek my verjaarsdaggeskenk gaan spandeer het se parkeerterrein was nie eers amper vol nie. Blykbaar was die een of ander kompetisie Saterdagmiddag in die beeskraal hiervoor verantwoordelik gewees, maar dit maak vir my geen sin nie. Iets van ‘n silwer koppie  vol kerrie en ‘n bul wat ‘n cheetah gehoring het daarvoor. ;-) Klink eerder vir my asof iemand weer in die Vitamin Green gewei het.

Ewenwel. Terwyl Plasie soos ‘n pieringoog seuntjie in ‘n speelgoedwinkel Builders Warehouse se rakke op en af drentel, was liefieLyfieWyfieding en die Persheks Unica kersmark toe vir so bietjie mother-daughter bonding.  Saam met die pannekoek en nougat bring sy toe vir Plasie hierdie T-hemp terug. Grapgat!

PJ

Maar terug by Builders Warehouse. Die werkswinkel is nou weer voorsien van skuurpapier, lym, skroewe, vernis en al die ander los artikels nodig vir die one-of-a-kind projek om weer momentum te kry. My hande lyk asof hulle in ‘n vleismeul was met al die snye en splinters en dinge, maar ek is so gelukkig soos ‘n vark in modder. Daar is 4 splinternuwe projekte op die produksielyn (werkstafel as jy dan nou so banaal wil wees) en nog 3 wat regstaan om in te beweeg sodra die huidiges klaar is. Maar daaroor vertel ek moontlik later.

Vir nou gaan ek eers my boek klaar lees.  Ons het Tandia (die opvolg van Power of  One) seker al 18 maande gelede gekoop, en dit was een van omtrent 50 boeke waarby ek nog wou uitkom. Laasweek het ek uiteindelik, en nou kan ek die ding nie neersit nie. Nou is dit nog Sondagaand ook en Plasie het elke bietjie beauty sleep wat hy kan kry ernstig nodig. Moreoggend is dit eerstehoennerpoep weer oom H3 se pyntuin, en ek het hoeka laasweek effe lyf weggesteek en net 5 ure daar deurgebring. Ai, besluite besluite.

Mag jou week kort wees en jou naweek ook weer vinnig aanbreek. Mag jou base vriendelik, jou kollegas stil en jou kliente gelukkig wees.

Ciao

PJ

Twee weke

Vandag is daar nog twee weke oor voordat ek die neurochirurg gaan sien oor die alien in my kop. Die alien wat intussen ‘n naam gekry het. Om die weke se gewag om te kry het ons onself maar aan google begin vergryp om te probeer verstaan waarmee ons te doen het.

Sy naam is prolaktinoom en sover groeisels aangaan is hy redelik vriendelik. Prolaktinome is meestal nie kwaadaardig nie en rig skade aan meer deur die drukking wat dit uitoefen op nabygeleë weefsel soos die pituitêre klier, oogsenuwee en sinusse in my geval. Dit is oor blykbaar redelik algemeen. In ‘n studie in die VSA is prolaktinome gevind by meer as 20% van die studiegroep, meeste het nie eers geweet daar is fout nie.

My prolaktinoom alien val in die makro kategorie omdat dit amper so groot soos ‘n golfbal is. Behandeling is feitlik altyd d.m.v langtermyn orale tablette met handelsname Parlodel, Dostinex of Permax. Dostinex klink nogal vir my na iets wat ‘n mens ‘n bees ingee. Ewenwel, chirurgie en bestraling word slegs oorweeg indien die liggaam ‘n negatiewe reaksie teenoor die medisyne toon.

En om te dink ons het eintlik net laat toets of daar swemmertjies is vir die bou van ‘n mini-Plasie, en nou trek ons al by breinchirurge. Die feit dat langtermyn behandelings voorgeskryf word is kommerwekkend, want ons het nie regtig meer tyd nie.  Mens wil darem nie hê die kiddo se maatjies moet dink dit is sy oupa of ouma wat hom soggens by die skool kom aflaai nie.

Aan die ander kant, Chirurgie as ‘n opsie scares the daylight out of me. Ek wil eintlik net hê iemand moet ‘n besluit maak oor wat die behandeling moet wees en begin daarmee eerder as om van een spesialis na dievolgende een verwys te word. Elke keer natuurlik met die stel gepaardgaande toetse wat met elke stap duurder en meer omvattend word. Ek wil nie meer op google gaan soek vir antwoorde  en myself malmaak met informasie en scenarios nie, ek wil hê een van die hoogbetaalde spesialiste moet my verslae lees en my in die oë kyk en dan vir my vertel 1. wat presies fout is met my en 2. hoe hy dit gaan behandel.

Ek het gehoop dit sal die neurochrirg wees maar ek het ook al genoeg gelees om te begin vermoed dat ek net weereens verwys gaan word. Die keer na die endokrinoloog toe.  Nog toetse, nog ‘n waglys nog steeds geen antwoorde nie.

Dit is moeilik om nie bitter te word nie.

PJ

 

Val en opstaan

Dit is nou maar ongelukkig so dat in die normale gang van die lewe, die gemiddelde mens baie meer tyd gaan spandeer om van die grond af op te staan en homself af te stof as op sy voete besig om te dans.

Die universe skuld niemand enige gunsies nie en jy sal ewe maklik ‘n skop in die tanne as ‘n klop op die skouer kry.

Desnieteenstaande en overgesetsynde maak dit nie ‘n donner saak hoe die moer jy jouself regop kry nie, doen dit net. Daardie kortstondige oomblikke wanneer jy aan die bopunt van die draaiende wiel is, is te goed om  op uit te mis net omdat jy te lui/moeg/depressief is om op te staan na die laaste skop in die niere.

Bob and weave baby . . . bob and weave. As jy zig toe jy moes zag, word jy wakker met jou gesig in die stof. Life is hard . . . deel daarmee

PJ

Op Dinsdag 23 Oktober 1973 om kwart-voor-vier die oggend word ‘n fris jong bulletjie van 4.2 kg gebore. Hy had bakore en bakbene en sy ma het hom Plasie gedoop.
Om kwart voor vier vanmore het die 36ste kersie op my lewenskoek brandgeraak, en nou is ek ook offisieël op die afdraande-kant van my dertigs.

Die helfte van my lewe is verby en ek het nog nie naastenby alles gedoen waaroor ek gedroom het nie. Boonop het ek die laaste 4 of 5 jaar gemors om die depressiemonster van my deur af weg te hou. Sooooo . . . . omdat ek verjaar en ek mag, is my geskenk aan myself ‘n “to do” lysie van dit wat ek wil ervaar/afhandel voor my volgende verjaarsdag. Let op dat ek dit nie ‘n emmerlysie noem nie, want daai benaming sny na dese te naby aan die been!

Alles kan nie net lekker wees nie, daar is ongelukkig ook goed wat moet gedoen word. Ek lys dit sommer eerste.

  • Verloor die laaste 26/27kg wat nodig is vir my om my teikengewig te bereik
  • Handel die padwaardigheid, registrasie en oordrag van Bees af sodat daardie hoofstuk ook gesluit kan word

Nou vir die lekker . . .

  • Ek gaan ten minste 5 van die DIY projekte waarvan ek hier praat, afhandel (hou die spasie dop)
  • Op my huweliksherdenking in Februarie gaan ek my LLWD neem vir ‘n glasie sjampanje bo-op Tafelberg
  • En op my LLWD se verjaarsdag gaan ons Warmlugballon ry. Geen verskonings van duur of wat ookal die jaar nie. Gaan groot of gaan huis toe!

Van lekker gepraat. Het ek al genoem dat ek van plan is om my 40ste verjaarsdag bo-op Kilimanjaro te vier? Wie kom saam?

Ek sal egter al hierdie mooi drome opgee vir die kans om ‘n bakbeen-blondekop-buksie te hê wat vir my pappa sê. Maar dit gaan nie gebeur voor die buksie wat in my kop groei nie eers uitsorteer is nie. Vir daai rede is dit my grootste wens dat 13 November nou vinnig moet kom sodat ek my afspraak by die neuroloog kan nakom en dat ons op ‘n plan van aksie kan besluit.

Happy birthday to me. Vir jou ook, Alien . . .

PJ

Verskoon my.

Ek is so klein bietjie uitgefreak. Nee dit is nie heeltemal reg nie .  .  .  ek beleef  ‘n totale ekwilibrium meltdown. Alles inwendig natuurlik, niemand mag weet ek voel soos ‘n bokkie in die skietligte nie.

Ek weet hierdie vrees is waarskynlik totaal ongegrond en irrasioneel, maar ek kan dit nie help nie. ‘n Mens reageer mos maar na gelang van wat jy weet en vorige ondervinding. Kanker het my ma kom vat, en dit was nie mooi nie. Om te hoor daar is ‘n groeisel in jou brein so groot soos ‘n golfbal is nie die tipe nuus wat jy wil hoor nie, al probeer die dokters hoe hard om jou te oortuig dit is totaal nie-kwaadaardig. Mense wat met skerp voorwerpe in my brein rondgrawe is ook nie juis ‘n vreeslik gerusstellende gedagte nie.

Ek het nodig om my fokus te loop verander. Ek was ingestel op fertiliteits behandeling en allerlei toetsies en prosedures met ‘n hoë verleentheidsfaktor, nie groeisels in my kop nie. Ek het so bietjie tyd nodig om die verstelling te maak en daarom gaan ek ‘n breek vat. Die res van hierdie week gaan ek spandeer aan voorbereiding vir volgende week se besoek aan Slaapstad en omliggende gebiede. Maandag vlieg ek syntoe en kom op die lang manier Donderdag weer terug.

Vrydag aanstaande week kry ek nog ‘n kersie op my koek by, dan sal ek terug wees en reg vir die geveg wat voorlê.

Soetwees en moet niks doen wat ek nie sal nie ;-)

PJ

Sammi het huiswerk uitgedeel en die tannie speel nie! Die opdrag is om die plek waar jy bly te bemark, synde dat daar tog immers ‘n goeie rede moet wees waarom jy daar bly. Ek stem saam met die feit dat daar ‘n rede is, maar dit beteken nie noodwendig dat jy bly waar jy graag sou wou bly nie. Hoe dit nou ookal sy, Pretoorsdorp is waar ek bly.

Synde dat die Merrie alreeds ons mooie stad se goeie punte besing het, gaan ek nou maar hou by die feite.

Algemene Oorsig

Die munisipale area van die groter Tshwane metropool beslaan ongeveer 3 200 km2. Dit strek bykans 60 km Oos/Wes en 70 km Noord/Suid en huisves ongeveer 2,2 miljoen inwoners. Dit is die tweede grootste munisipaliteit in Gauteng naas groter Johannesburg, en een van die ses grootstes in die land. Die middestad van Pretoria is ongeveer 50km vanaf die middestad van Johannesburg en dieselfde afstand vanaf OR Tambo internasionale lughawe

Die stad is

  • die setel van die regering met al die nasionale regerings departemente hier gebasseer.
  • form deel van die Gauteng streek, die rykste en vinnig groeiendste ekonomiese streek in Afrika
  • huisves al die ambassades van al die lande in die wêreld
  • is ‘n nasionale kern van navorsing en opleiding met vier universiteite en sewe van die agt nasionale wetenskapsrade. Hulle is die WNNR, HSRC (Human Sciences Research Council), die Landbou Navorsings Raad, the NRF (National Research Foundation), die MRI (Medical Research Institute), die VRI (Veterinary Research Institute) en die SABS.
  • is sover my kennis strek die enigste metroraad wat lugfotos van die hele munisipale gebied op hulle webwerf het. I can see my house from here . . .

Die hoof ekonomiese aktiwiteite is gemeenskapsdienste (staat) gevolg deur finansies en vervaardiging. Die grootse subsektor in die vervaardigings bedryf is metaal produkte, masjienerie en huishoudelike toestelle, gevolg deur die mototbedryf (o.a Nissan, Ford en BMW). Pretoria het drie hoof industriële gebiede in Silverton in die Ooste, Pta Wes en Rosslyn in die Noordweste.

Benewens die 36 hospitale en klinieke bied Pretoria ook ‘n paar natuurreservate, heelparty museums en historiese besienswaardighede (o.a die Voortrekker monument, Uniegeboue, Kerkplein en Sammy Marks Huis) en die nasionale dieretuin.Verskeie van die top skole in die land is ook in Pretoria

Pretoria se bekendste kenmerk is waarskynlik die duisende Jakarandabome wat die stad gedurende Oktobermaand bedek in ‘n pers kombers.

Leef en Werk in Pretoria (Noord)

Ligging, klimaat en temperatuur

Die Daspoort rante en Magalliesberge verdeel Pretoria in rofweg drie Oos/Wes korridors. Die Suidelike korridor bestaande uit Oostelike voorstede, middestad, Westelike industriele gebiede en Centurion. Die middelste korridor tussen die twee reekse genaamd Pretoria Moot en die Noordelike korridor. Dit is aan die westekant van Pretoria Moot waar die Pretoria se eie tonnel geleë is. Dit is ‘n rapsie oor die 800 meter lank en is een van die verbindingsroetes vanaf die westelike voorstede na die middestad. Die minder gegoede buurte is oorwegend rondom die industriële gebiede gevestig en veral dan in die Weste.

Gemiddelde dagtemperatuur in die Noorde van Pretoria is soveel as 4-6 grade warmer as in die Suide en Johannesburg a.g.v. die feit dat dit teen die noordekant van die Magalliesberg geleë is en sal konstant rondom 30+ grade in die somer wees en ongeveer 15 -20 grade in die winter. Reënval is ongeveer 670mm per jaar, oorwegend in die somermaande. Reën is oorwegend in die vorm van donderstorms wat gepaard gaan met wind en weerlig. Pretoria het heelwat laagwaterbrue wat klokslag oorstroom word tydens hierdie donderstorms.

Infrastruktuur

Noord van Magaliesberg is twee privaathospitale en verkeie kleiner klinieke en dokterspraktyke, met nog twee privaathospitale minder as 10 minute se ry verder in Pta moot. Verskeie laer en hoërskole sowel as ‘n tegniese hoërskool val in die gebied noord van die Magallies, alhoewel dit meestal van die ou model C skole is. Verskeie kleiner sowel as 2 mega inkopiesentrums kom in die gebied voor, en verteenwoordig al die grootnaam kleinhandelaar groepe. Paaie is onder druk omdat sowat 220 000 voertuie per dag suid moet beweeg om te gaan werk deur slegs 4 toegangsroetes deur Magalliesberg. Geen wonder dat Zambesiweg (een van die hoofroetes wat die poorte deur die berg voer) die meeste jaarlikse ongelukke in Pretoria het nie. Noordelike Pretoria is tans die snelgroeindste deel van die stad.

Akkomodasie

Huispryse is oor die algemeen redelik billik en wissel van R 500,000 vir intreevlak in ‘n meenthuise tot ongeveer R 5 milj vir ‘n ou plekkie teen die berg met ‘n uitsig tot in Zimbabwe. Gemiddelde huispryse is egter onder 1 milj, en in die ouer dele kan jy werklik waarde vir geld kopies kry.

Geleenthede

Die 2001 Sensus het aangedui dat sowat 46% van die ekonomies aktiewe populasie van Pretoria in die Noorde woon, maar dat slegs 21% van die werksgeleenthede hier geleë is. Kleinhandel, bouverwante bedrywighede, ontspanning en tegnologie is sektore waar intrepeuners kan investeer in die noorde.

Ontspanning

Benewens die aansienlike hoeveelheid museums, geskiendkundige besienswaardighede, koopsentrums en reservate binne Pretoria, is sy sentrale ligging van so aard dat jy toegang het tot ‘n verbysterende reeks keuses wat vir dagbesoeke en vir kort naweekwegbreke wat per motor bereikbaar is. Enkeles hiervan is:

  • Hartebeespoortdam en omliggend – 45min
  • Maggaliesburg en die wieg van die Mensdom  – 1uur
  • Pilansberg en Sun City – 1 uur 15 min
  • Waterberg warmbronne en Wildreservate – 1 tot 2 uur
  • Nelspruit en laeveld 3 – 4 ure
  • KZN Noord of Suidkus – 6 to 7 ure
  • Bloemfontein en Drakensberg 3 – 4 ure

Pretoria is voorwaar “a lekker place to be”

PJ

Older Posts »