Feeds:
Bydraes
Comments

Wardrops en silings

Ja toemaar! Jy is verskoon as jy ook nie geweet het wat die donner ek van praat nie.

Die fokus van my toorn is weereens ‘n stukkie besigheidsadvertensie wat ek vanmiddag tussen die ander halfton papier uit my posbus gehaal het. Gepraat daarvan, is dit net ek wat dink daar moet ‘n beter en groener manier van bemarking wees as om elke dag 2 bome se papier in jou posbus te druk? Maar ek dwaal. Kyk na die advertensie en besluit self of jy dit sal waag om van hierdie ouens se dienste gebruik te maak. Dit is nou as jy kan uitsorteer wat die dienste is wat hulle aanbied!

Ek verstaan jy het nie nodig om te kan spel om skrynwerk te kan doen nie, so jammer. Noem dit ‘n pet hate, maar besigheidsadvertensies se spelling moet reg wees forvarksteaks!

Besides, as jy nie kan spel nie, kan jy waarskynlik ook nie tel en somme maak nie, en dit diskwalifiseer jou om enige skrynwerk te doen.

P.S. Brownie punte as jy al die spel- en taalfoute kan korrigeer en kan uitpluis presies wat hulle alles doen.

PJ

Eenhonderd

Ek het gisteraand oom Helgaard se pyntuin saam met die LiefieLyfieWyfieding besoek, en in die proses die 100 ure kerf verbygesteek sedert ek op 1 Junie daar aangemeld het vir strafdiens.

Dit is ‘n totaal van 177 dae teen ‘n gemiddelde van 33 minute en 54 sekondes per dag. Glad nie te sleg vir iemand wat vir die voorafgaande 10 jaar ‘n volslae bankpatatta was nie.

Hoekom ek rekord hou daarvan? Vet weet. Wie gee om? Waarskynlik net ek (so ‘n bietjie).

Eintlik skryf ek net hierdie stukkie nuttelose stront omdat ek geen inspirasie het om iets betekenisvol te skryf nie, en omdat ek eintlik lus is om die ou plaasopstal op te gee vir herverdeling, maar die LLWD sal my donner as ek dit doen.

Is dit al te vroeg om almal ‘n happy krismis en voorspoedige nuwejaar toe te wens?

Plasie is moeg. Plasie wil rus. Dalk kan ek saggies wegsmelt in die agtergrond sonder dat iemand agterkom.

Tiek. Tok.

Minder as 6 weke voor Kersfees, 5 weke en 3 dae om presies te wees. Die willeweghol afdraende van die einde-van-die-jaar het nou ‘n loodregte krans geword, ons lewens ‘n verbysterende vryval waar jaareind funksies, spertye, wil nog’s en moes nog’s soos flitsende gedagtes verbyskiet.

Te vinnig . . .stoooooooop! Dit gaan te vinnig. Heeltemal te vinnig. Ek wil afklim. Ek wil dink. Ek wil rus. Maar tyd is doof en tyd is blind en tyd loop uit teen 60sekondes elke minuut. 60 minute elke uur. Onverpoosd. Sonder moegword. Sonder stop.

Soos die langverwagte wegbreek naweek in ‘n oogwink weer verby, baie lekker maar alreeds byna net ‘n vaag onthoude gedagte in die vryval van die silly season. Die dokter se voorgeskrewe behandeling Vrydag voel soos maande gelede. LiefieLyfieWyfieding het dit hier alles bymekaargesit, so ek gaan dit nie weer vertel nie. Ek moet nog een keer Kaap toe vir besigheid, dalk soveel as 3 keer in die volgende 6 weke. Ek moet nog ‘n klomp spertye haal, ek moet nog voorsiening maak vir ten minste 2 weke sonder inkomste terwyl ek herstel van die operasie om die gewas te verwyder. Ek wil nog bitter graag 2 projekte afhandel voor Kersfees. Nee, nie projekte nie. Liefdestake uit waardering vir 2 baie spesiale mense.

Ek het grys geword. Sommer oornag. Want ek worry. Nie oor doodgaan nie, maar oor lewe. Waar die geld vandaan gaan kom om mediese rekeninge te betaal wat nie deur die fonds gedek word nie. Wie die werk gaan doen as ek buite aksie is. Of ek ‘n las sal wees vir LLWD as iets moes skeefloop. Ek kan dit nie help nie, ek is net so. Ek bekommer my oor goed wat vir my saak maak.

Ek het bang geword. Ek het grys geword. Ek wil afklim. Laat-my-asseblief-net-afklim.

PJ

Prênkie van ‘n alien

010A6F94

Daar sit (wat ons vermoed) die bliksemse alien in my kop. Daai wit kol net onder my regteroog (links op foto). Vanmore om 07:45 gaan die neurochirug hopenlik mooi vir my verduidelik wat gaan vir wat op die MR skandering se foto’s . . .  en dalk net as ek baie gelukkig is wat hy (ons) daaromtrent gaan doen.

Die goeie nuus is dat teenstrydig met populêre opinie, hét ek ‘n brein! Soos wat die foto’s bewys. Dankie tog daarvoor . . . hiehiehie.

Na ons klaar is by die oom duur dokter, gaan ons MINERAALBRONNE toe. Dokter LiefieLyfieWyfieDing se orders. Ek sien uit, ons het albei hierdie wegbreek nodig.

Gedra julleself. Ek weet ek gaan nie.

Ciao

PJ

‘n Man het sy lewe verloor.

Tussen verwronge staal is sy lewensvlam gedoof. Hy was ‘n polisieman aan diens. Iemand wat ons land kwalik kan bekostig om te verloor. Iemand wie sy familie kwalik kan beskostig om te verloor.

Terwyl ons ongeduldig in die verkeer sit en swets en met ons vingers op die stuurwiel trommel kom die verkeersverslag oor die radio. Ernstige ongeluk op Zambesi . . .  polisieman dood is . . . ondersoek na oorsaak van die ongeluk reeds begin.

Al waaraan ek kan dink is of die ondersoek so gou geloods sou gewees het as dit die lid van die publiek was wat omgekom het en wat gebeur as die polisieman die skuldige blyk te wees.  En terwyl ons verby die toneel kruip waar die laaste stukke van die wrakke opgelaai word kan ek nie help om te dink dat die beste manier om die nooddienste vinnig op die toneel te kry as jy in ‘n ongeluk was, is om met ‘n polisievoertuig of ‘n minister te bots.

‘n Man het sy lewe verloor, maar die eerste gedagtes wat by jou opkom is wantroue en suspisie. Het leef in hierdie land, in hierdie wêreld ons uitsig so verwronge gelaat dat gewone menslike empatie slegs ‘n nagedagte is?

Dit is om van siek te word. Tot kotsens toe siek.

‘n Man het sy lewe verloor. Gee iemand nog om?

PJ

Dad

Ek kan skaars glo dit is alweer ‘n jaar sedert my laaste briefie. Dinge gaan darem wragtag vinnig, hopeloos te vinnig. Kan jy glo ek is al 36? Om te dink ek was maar 19 toe dit gebeur het. Ek voel steeds of ek net gou kan ingaan huis toe om jou te roep om te kom kyk wat ek nou weer aanvang. Ek is juis besig met ‘n nuwe projekkie, en ek is nogal trots daarop. Oom Hennie was nou die dag hier en hy reken dit is ‘n netjiese stukkie werk, en jy weet hoe pedanties daardie kunstenaar tipes kan wees!

Ek weet nie hoe goed die “grapevine” werk daar by julle nie, maar jy het seker al gehoor van die nuwe moeilikheid wat my en Krista te bowe geval het? Ek vertel maar weer net vir ingeval. Ons probeer nou al so net annerkant die 2 jaar om ‘n naamgenoot vir oupa te bewimpel, maar sonder sukses. Soveel so was ons gesukkel dat ons onself toe maar noodgedwonge na die mediese wetenskap moes wend vir antwoorde. Om ‘n lang storie kort te maak, na vele spesialiste en toetse en bevoelinge en dinge kom hulle toe agter ek het een of ander groeisel in my kop wat blykbaar verantwoordelik is vir meeste van my moeilikheid. Nodeloos om te sê is ek heeltemal buite my wentelbaan oor die hele besigheid, ek meen ek is maar net 10 jaar jonger as wat jy was . . . Ewenwel ons het ‘n afspraak by ‘n neurochirurg oor 2 dae (nogal Vrydag die 13de!) Dan sal ons seker maar sien.

Met die res gaan dit goed. My ooms en tantes (jou boeties en sussies) raak nou oud. Ek het hulle almal gesien op die 10 Oktober, maar ons kon ongelukkig nie lank genoeg bly om lekker te kuier en op te vang nie. Oom Kobus het weer met smaak vertel hoe julle gevang was toe julle as kinders die Pupkewitz winkel in Windhoek onder die klippe gesteek het. Tannie Leatitia het nou afgetree en bestuur ‘n gesondheidspa op die plaas. Tannie Mariaan hulle trek Januarie Rundu toe. Jis jy sal nie glo hoe baie lyk Melanie na haar tante Mariaan nie! Oom Hennie stoom voort. Die hart en die rug en die diabetes keil hom op, maar hy is ‘n regte kanniedood.

Ek is ook nou uiteindelik besig om Bees (dit is wat ons die ou F250 bakkie gedoop het) se oordrag af te handel sodat ek hom maar kan verkoop. My hart is regtig seer daaroor, maar die ou ding staan nou regtig net en verniel.

Ek moet nou gaan, daar is nog baie om te doen voor Vrydag. Direk na die afspraak gaan ons bietjie warmwaterbronne toe vir die naweek. Onthou ek nou, julle was mos ook bronne toe die naweek voor jou hartaanval?

Krista stuur groete. Ons mis jou. Mooi loop ou grote.

PJ

Die dag van rekenskap

Miskien het die tyd aangebreek vir ons as Afrikaanssprekendes om rekenskap te gee van onself, nie as wittes nie. Nie as Afrikaners nie, maar as Afrikaans sprekende Suid Afrikaners. Die manier hoe ek dit sien is jy of deel van die probleem of deel van die oplossing. Al hou ek nie van hoe die sisteme lyk in ons nuwe reënboog village nie, is dit my plig as landsburger om my volle gewig en ondersteuning daaragter te gooi.

Wie weet, dalk word ek en jy as Afrikaners en as bleekgesigte makliker aanvaar as deel van hierdie land as ons gesien word as aktiewe deelnemers en promoveerders van die prosesse, eerder as kantlyn kommntators wat dit kortwiek.

Dinge gaan waarskynlik eers nog slegter word voor dit beter word, so trek op jou kouse, druk jou hoed stewig op jou kop vas en klou boetie/sussie klou! Die reenboog village is nie vir sissies nie.

Vat hom weg Bok! (hierdie is my gunsteling song op die nuwe album)

 

PJ

 

Plasie en die LiefieLyfieWyfieding het ‘n kort roadtrip onderneem na die plaas van oorle Lang Willem Prinsloo en die se seun klein Lang Willem Prinsloo, oftewel die Willem Prinsloo landbou museum soos dit beter bekendstaan.

P1060002

Afrikaner Os

P1060005

Koeikraal

P1060006

Bulkraal

P1060008

Wilde weste

P1060009

My tipe wa

P1060011

Vaaljapie

P1060013

My oom se motor (trekker) is 'n ou masjien . . .

P1060015

Cat rules!

P1060019

Uiters skaars windverwaaide rondekop huisdier. Hierdie een is makgemaak en LiefieLyfieWyfieding gedoop.

P1060031

Pou bende siesta

P1060044

Pou bende aan die beweeg

P1060032

Moo!

P1060049

Turksvyblom en heuningby

 

P1060050

Haak rooies, vastrap vaaltyn!

P1060035

Finale rusplek?

Dankie Lyfie, dit was fun. Volgende keer vat ons ‘n piekniekmandjie!

PJ

Nabetragting

Ou Plasie sal altyd die eerste een wees om te kla dat naweke te kort is, maar naweke is eintlik net reg. Daar bly altyd genoeg goed oor waarby jy nie uitgekom het nie sodat jy moet uitsien na volgende naweek :mrgreen: Een ding wat wel heeltemal te kort is, is Somer. Jimmel ek lief die Somer!

Pretoria se strate was byna verlate vanmore, heel verrassend vir einde-van-die-maand naweek. Selfs Builders Warehouse waar ek my verjaarsdaggeskenk gaan spandeer het se parkeerterrein was nie eers amper vol nie. Blykbaar was die een of ander kompetisie Saterdagmiddag in die beeskraal hiervoor verantwoordelik gewees, maar dit maak vir my geen sin nie. Iets van ‘n silwer koppie  vol kerrie en ‘n bul wat ‘n cheetah gehoring het daarvoor. ;-) Klink eerder vir my asof iemand weer in die Vitamin Green gewei het.

Ewenwel. Terwyl Plasie soos ‘n pieringoog seuntjie in ‘n speelgoedwinkel Builders Warehouse se rakke op en af drentel, was liefieLyfieWyfieding en die Persheks Unica kersmark toe vir so bietjie mother-daughter bonding.  Saam met die pannekoek en nougat bring sy toe vir Plasie hierdie T-hemp terug. Grapgat!

PJ

Maar terug by Builders Warehouse. Die werkswinkel is nou weer voorsien van skuurpapier, lym, skroewe, vernis en al die ander los artikels nodig vir die one-of-a-kind projek om weer momentum te kry. My hande lyk asof hulle in ‘n vleismeul was met al die snye en splinters en dinge, maar ek is so gelukkig soos ‘n vark in modder. Daar is 4 splinternuwe projekte op die produksielyn (werkstafel as jy dan nou so banaal wil wees) en nog 3 wat regstaan om in te beweeg sodra die huidiges klaar is. Maar daaroor vertel ek moontlik later.

Vir nou gaan ek eers my boek klaar lees.  Ons het Tandia (die opvolg van Power of  One) seker al 18 maande gelede gekoop, en dit was een van omtrent 50 boeke waarby ek nog wou uitkom. Laasweek het ek uiteindelik, en nou kan ek die ding nie neersit nie. Nou is dit nog Sondagaand ook en Plasie het elke bietjie beauty sleep wat hy kan kry ernstig nodig. Moreoggend is dit eerstehoennerpoep weer oom H3 se pyntuin, en ek het hoeka laasweek effe lyf weggesteek en net 5 ure daar deurgebring. Ai, besluite besluite.

Mag jou week kort wees en jou naweek ook weer vinnig aanbreek. Mag jou base vriendelik, jou kollegas stil en jou kliente gelukkig wees.

Ciao

PJ

Twee weke

Vandag is daar nog twee weke oor voordat ek die neurochirurg gaan sien oor die alien in my kop. Die alien wat intussen ‘n naam gekry het. Om die weke se gewag om te kry het ons onself maar aan google begin vergryp om te probeer verstaan waarmee ons te doen het.

Sy naam is prolaktinoom en sover groeisels aangaan is hy redelik vriendelik. Prolaktinome is meestal nie kwaadaardig nie en rig skade aan meer deur die drukking wat dit uitoefen op nabygeleë weefsel soos die pituitêre klier, oogsenuwee en sinusse in my geval. Dit is oor blykbaar redelik algemeen. In ‘n studie in die VSA is prolaktinome gevind by meer as 20% van die studiegroep, meeste het nie eers geweet daar is fout nie.

My prolaktinoom alien val in die makro kategorie omdat dit amper so groot soos ‘n golfbal is. Behandeling is feitlik altyd d.m.v langtermyn orale tablette met handelsname Parlodel, Dostinex of Permax. Dostinex klink nogal vir my na iets wat ‘n mens ‘n bees ingee. Ewenwel, chirurgie en bestraling word slegs oorweeg indien die liggaam ‘n negatiewe reaksie teenoor die medisyne toon.

En om te dink ons het eintlik net laat toets of daar swemmertjies is vir die bou van ‘n mini-Plasie, en nou trek ons al by breinchirurge. Die feit dat langtermyn behandelings voorgeskryf word is kommerwekkend, want ons het nie regtig meer tyd nie.  Mens wil darem nie hê die kiddo se maatjies moet dink dit is sy oupa of ouma wat hom soggens by die skool kom aflaai nie.

Aan die ander kant, Chirurgie as ‘n opsie scares the daylight out of me. Ek wil eintlik net hê iemand moet ‘n besluit maak oor wat die behandeling moet wees en begin daarmee eerder as om van een spesialis na dievolgende een verwys te word. Elke keer natuurlik met die stel gepaardgaande toetse wat met elke stap duurder en meer omvattend word. Ek wil nie meer op google gaan soek vir antwoorde  en myself malmaak met informasie en scenarios nie, ek wil hê een van die hoogbetaalde spesialiste moet my verslae lees en my in die oë kyk en dan vir my vertel 1. wat presies fout is met my en 2. hoe hy dit gaan behandel.

Ek het gehoop dit sal die neurochrirg wees maar ek het ook al genoeg gelees om te begin vermoed dat ek net weereens verwys gaan word. Die keer na die endokrinoloog toe.  Nog toetse, nog ‘n waglys nog steeds geen antwoorde nie.

Dit is moeilik om nie bitter te word nie.

PJ

 

Older Posts »